"Wake up kids, we've got the dreamer's disease"



Monday, May 6, 2013

Ma & dogter…

Sommer net.. (64)

Siende dat dit hierdie week moedersdag is, het ek besluit om oor hierdie baie belangrike onderwerp te skryf. Dit is een van die mees komplekse en moeilikste verhoudings in die wêreld. Die verhouding tussen ma en dogter -  ons klou vas aan hulle as ons klein is en baklei teen hulle as ons groot word. En êrens langs die pad moet ons besef dat die verhouding weer gaan moet verander.

Ek het nog altyd geglo dat daar ’n tyd in elke kind, en in hierdie geval, spesifiek in elke dogter se lewe kom waar hulle uit die huis uit móét gaan. Baie mense verskil hieroor van my – insluitend my eie ma (ek’s seker). Maar ek het dit al te veel gesien met mense van my ouderdom. As hulle teen hierdie ouderdom nog in die huis is, dan baklei hulle net die heeltyd met hulle ouers.

’n Baie goeie vriendin van my het ’n paar weke gelede gebel oor probleme wat sy met haar ma het. Ek sal nie op die details ingaan nie, maar dit het net my teorie onderstreep en my laat besef hoekom dit so is. Miskien is dit nie noodwendig dat jy te lank in die huis bly nie, maar eerder dat jy te tevrede is om mense te behandel soos toe jy ’n kind in die huis was.

Dit is waaroor ek wil skryf, daardie een tydstip in jou lewe wanneer jy besef jou verhouding met jou ma kan nie net aanhou soos wat dit was toe jy ’n tiener was en jou voete op die grond gestamp het en die kamerdeur toegeslaan het nie.

Want Sweetie, jy is nie meer ’n vyfjarige nie en tantrums is nie meer cute nie. Net so is dit nie meer aanvaarbaar om mense te behandel soos jy het toe jy klein was nie en êrens langs die pad het ons dit begryp. Maar hoekom behandel ons nog ons ma’s dieselfde?

Daar kom ’n ouderdom waar die verhouding moet wegskuif van ’n grootmens-kind-verhouding na ’n verhouding tussen grootmense. En hier is waar dit moeilik raak.

Jy sien die probleem lê in hoe ons as dogters ons ma’s sien. As kinders sien ons ma’s nie as volledig mense nie. Natuurlik is ons verskriklik lief vir hulle, maar dit is gewoonlik ’n verhouding waar ons net bekommerd is oor wat ons uit die deal uit kan kry. Maar dis OK, jy’s klein en dis wat ma’s doen. Totdat dit nie meer OK is nie.

Vir die verhouding met jou ma om te ontwikkel, rus dit op jou skouers om jou oë oop te maak en die mens agter die ma te sien. Dit is nie noodwendig ’n wonderlike proses om te ondergaan nie. Jy sien skielik al haar foute en alles wat sy opoffer om jou gelukkig te hou.  Jy hoor die ondertoon van kommer oor iets by haar werk as sy jou vra hoe klas was. Jy sien haar onsekerhede en haar vrese om nie genoeg vir jou te wees nie. Watter ma wil nie hê haar kind moet die perfekte jeug hê nie. Moenie vir een oomblik die illusie glo dat daar nie enorme druk op hulle is om alles reg te doen nie.

Dit was definitief ’n eye-opening ervaring toe ek my ma so begin sien het, ek dink dit was nadat ek uit die huis uit is. Ek is bly my oë het oop gegaan, dit het ons verhouding beslis verander. Maar ek moet erken dat ek nog soms oombliklik in ou patrone inval as ek by die huis is.

So vir hierdie moedersdag, gee jou ma ’n groter geskenk as chocolates en ’n lame kaartjie waarvan jy nie eers die boodskap gelees het nie. Aanvaar haar vir die mens wie sy is, onsekerhede, vrese en opofferings en al. Dit is waarskynlik alles vir jou gewees.

No comments:

Post a Comment