Vandag het ek weer besef hoe wonderlik God te werk gaan. Soms is dit so subtiel dat die meeste mense dit nie eers sal agterkom nie, maar vanoggend was dit vir my so duidelik soos daglig. Die eerste teken was die teks waaruit die dominee gepreek het in die kerk vanoggend. Lukas 24, dit is van belang omdat ek vanoggend voor kerk in die koerant gelees het van `n gedeelte uit Lukas 24. Ek glo nie in toeval as dit by sulke goed kom nie. Ek het dadelik geweet dat hierdie preek net vir my was. En dit was…
Die preek was oor twyfel. Een sin staan vir my uit. Dat twyfel en geloof hand aan hand gaan, en dat daar `n verskil is tussen twyfel en ongeloof. Ek het hierdie preek nodig gehad omdat ek die afgelope ruk getwyfel het of ek sterk genoeg sal wees om volgende kwartaal se filosofie te kan hanteer. Ek het gehoor dat ons volgende kwartaal filosofie van geloof doen en dat dit baie rof is. Ek was bang daarvoor en ek wou dit vermy ten alle koste, ek wil nou nog.
Maar na vanoggend voel ek versterk. Ek onthou dat hy gesê het oor die konfrontasie van dinge wat jou kan laat twyfel. Dat jy dalk die bose teen alle koste wil vermy, maar die bose wil jou nie vermy nie. Twyfel kan juis voordelig wees omdat dit jou geloof sterker maak en jou naby aan jou Verlosser hou. Daarom moet jy nie bang wees om dit te face nie. Twyfel alleen kan jou nie by ongeloof uitbring nie. Ongeloof is `n keuse, net soos geloof `n keuse is.
Daarom was die preek oor twyfel juis vir my gewees en ek weet dat God vanoggend deur die preek met my gepraat het. Ek twyfel soms omdat ek menslik is en ek weet dat ek swak is. Dit is ook menslik. Maar dit is juis wanneer ons op ons swakste is dat God op sy sterktse in ons lewens werk. Dit is nooit `n slegte ding om te besef hoe swak ons werklik is nie. Want ons is mense en ons is swak, maak nie saak wat baie mense hulleself wil oortuig nie. God is almagtig en dit is sleg deur Sy genade dat ons ooit enige iets kan reg kry…
No comments:
Post a Comment