"Wake up kids, we've got the dreamer's disease"



Friday, May 20, 2011

Verwondering

 

As ek te lank in die koshuis aaneen is, raak ek maklik rusteloos en min dinge help daarvoor behlawe beweeg. Nou as dit reen of `n vakansiedag is, is daar niks wat ek daaraan kan doen nie. Vandag het ek besluit om `n ent te gaan stap, aangesien ek dit baie lank laas gedoen het. Hopeloos te lank laas. Laas jaar het ek dit so baie gedoen. Ten minste elke Sondag, aangesien ek in die week te veel dinge aangehad het. Ek weet nie eintelik hoekom ek dit nie meer so baie doen hierdie jaar nie, maar ek gaan beslis probeer om dit meer te doen as ek die kans kry.

My gunsteling plek in Stellenbosch is die  bruggie oor die Eersterivier. Ek kan vir ure daar staan en net kyk hoe die water rustig onder my verby stroom. Ek weet nie hoekom nie, maar daar was nog altyd iets aan water wat my rustig gemaak het. Dis hoekom ek so dol is oor die see en oor reen en die rivier. Die klank van die water wat oor die klippe stroom maak iets in my los en ek kan nie help om te laat gaan nie.

In so mooi dorp word ek gedurig vasgevang in die skoonheid van die natuur. Die donker, klam rustigheid van die Botaniese tuine en die wind wat deur die groot boom voor ons venster kam.  Die eikeblare wat in die herfs verkleur en grond toe val en veral die adorable eekhorings wat oral is. Wanneer mens gaan stil staan en die vars lug inasem, die water oor die klippe oor kabbel en die eekhorings die bome sien klim, kan mens nie help om gevul te word met `n gevoel van verwondering nie.

`n Gevoel van verwondering oor hoe ongelooflik God se skepping is. Ek sal nooit kan verstaan hoe sommige mense die skepping kan aanskou en nie kan glo nie. Nie die mate van God se almag kan insien nie. Nie dat dit mens regtig moet verbaas nie. Die mens se kapasiteit vir enige iets is baie meer beperk as wat enige iemand deesdae wil erken.  God het ons in Sy beeld geskep, maar ons sal nooit sy weë kan begryp nie en ons sal dus nooit die heelal kan verduidelik aan die hand van enige iets nie. En ek stel ook nie belang om enige iets te verduidelik of te verstaan nie. Ek wil net alles indrink, waardeer so goed ek kan en God se naam prys want Hy is almagtig en Sy skepping is so besonders dat `n duisend jaar nie gnoeg is om dit behoorlik te waardeer nie.

Ek prys U naam, want U is almagtig, ek lees dit in U skepping. Ek sal nooit U almag kan indrink nie, maar dit laat my net besef hoe klein en onbenullig ek is. Dankie dat U in my belangstel en U seun gestuur het om vir my sondes te sterf. Amen.

No comments:

Post a Comment