8 Julie 2011
Gister was ons toevallig in `n Crazy Store terwyl my ouers probeer het om een of ander issue by die selfoon-shop uit te sort. Ek weet nie of julle die winkels ken nie, maar dis soos `n lucky packet. Jy kry die beste goed teen baie goedkoop. Dis toe in hierdie winkel wat my suster besluit om een van daardie outydse bubble-blasers te koop. En dit het haar vir ure besig gehou.
Terwyl sy in die kar en by die venster uit geblaas het, het ek net gesit en dink. Hoe bubbles blaas my vir ure kon besig hou terwyl ek klein was. Hoe ek dit bo enige iets sou kies. Bo duur speelgoed en self bo Cartoon Network wat op daardie stadium in my lewe in gekom het. Bubbles blaas, so eenvoudig soos seepwater deur `n plastic-ringetjie blaas.
So maklik en eenvoudig soos die lewe was daardie tyd. Deesdae dink ek al hoe meer aan die eenvoud van so klein wees. Voor kommer en bitterheid die lewe kom vaag maak het. Voor mens oud genoeg was om te verstaan dat die lewe nie altyd swart en wit is nie. Voor mens geleer het om die grys skakerings in te sien. Voor die lewe begin het om jou hard te maak.
Ek verstaan dat ek nog jonk is en seker waarskynlik nog nie kan praat nie. Ek is nog op universiteit en ek verstaan nog nie heeltemal die werklikheid daar buite nie. Ek het nog skaars begin leef. Maar soms sien ek die tekens van die lewe aan my en dit maak my bang. Ek wil nie hard word nie. Ek wil vir die res van my lewe so sag en oop vir die lewe wees soos ek was toe ek klein was. Ek wil die lewe ervaar soos deur die oë van `n kind.
Maar tog glo ek dis moontelik. Nie maklik nie, maar moontelik. Dis moontelik deur jouself te kondisioneer om nie sinies en hard te word nie. En om die eenvoudige dinge in die lewe te waardeer. Soos om bubbles te blaas...
AMANDA
No comments:
Post a Comment