Dit het nog altyd vir my gelyk of Tafelberg wag staan oor die stad. Ek kan nie presies verduidelik hoekom nie, miskien is dit maar net my verbeelding wat met my weg hardloop. Want die landmerk het nog altyd my verbeelding aangegryp. Selfs lank voor ek die berg met my eie oë gesien het. Daar is net iets trots en standvastig aan Tafelberg wat `n tipe verwondering by my wek wat ek nie altyd in woorde kan sit nie. Deur alles waardeur ons pragtige land al is, staan die berg nog onveranderd daar en dit gee my hoop. Dis wat die berg vir my is.
Dit laat my dink aan die gedig Swyende van Lina Spies:
“en die berg waarheen ek terug gekom het, om aan te sit by die bekende tafel.”
Ek is lief vir Tafelberg. Dis `n liefde wat mens nie kan skud nie en ook nie werklik kan verduidelik vir die wat dit nie voel nie. Dit vul my hart wanneer ek hom in sig het. Dit is my gunsteling gedeelte van die rit in stad toe van Stellenbosch af. Wanneer die kar om daardie draai gaan en jy die berg vir die eerste keer kan sien.
Die rede hoekom ek nou oor Tafelberg skryf is omdat dit een van die finaliste is om een van die new7wonders of nature te word. So, as jy hierdie lees, gaan stem asseblief vir Tafelberg op http://www.votefortablemountain.com/ sodat die berg die herkenning kan kry wat ek glo dit verdien.
Daarom los ek julle met hoop. Verwondering en hoop, want dis wat Tafelberg vir my verteenwoordig.
No comments:
Post a Comment